Aftreespel is soos slangetjies en leertjies

Aftreespel is soos slangetjies en leertjies
20 April 2016

 

 

Pensioenbeplanning is amper soos om slangetjies en leertjies te speel, sê Viresh Maharaj, hoof-bemarkingsaktuaris by Sanlam se afdeling vir werknemervoordele.

 

“Net soos in die bordspel moet ’n mens blokkie vir blokkie ­beweeg wanneer jy jou pen­sioenfonds bou. Jy kan nie regtig ’n ses gooi en vinnig vorder of ’n groot sprong met ’n ‘leer’ maak met beleggings vir aftrede nie. Jy moet dit maar stappie vir stappie oor ’n lang tydperk doen. 

 

“Maar ongelukkig is die ‘slange’ in die aftree-‘bordspel’ liederlike dierasies wat jou in een hap van nommer 99 tot by een kan teruggooi,” waarsku hy.

Sanlam het onlangs sy jaarlikse Benchmark-navorsing voltooi oor mense se kennis van hul pensioen­beplanning en hoe hulle dit ná aftrede gebruik.

3 grootste slange

Volgens hom is die drie groot “slange” wat die meeste mense onkant vang:

1. ’n Gebrek aan kennis oor presies hoeveel hulle gespaar het, of moes spaar;

2. ’n Gebrek aan begrip oor presies hoe hul pensioenfonds werk en hoe en hoeveel dit gaan betaal; en

3. ’n Gebrek aan omsigtigheid oor hoe om hul finansies ná ­aftrede te bestuur.Weet wat jy moet spaar.

Dit is noodsaaklik dat mense deur hul werklewe op die hoogte bly van wat hul situasie met aftreebeplanning is. Sanlam se navorsing toon die meeste mense begin eers hieroor navraag doen wanneer hulle aftree.

“Hoewel dit die verantwoordelikheid van werkgewers is om hul werknemers in te lig oor presies watter voordele hulle het, en wat hulle al vir aftrede gespaar het, kan mense nie die skuld vir hul gebrek aan kennis op hul mensehulpbronafdeling pak nie.”

Dis elkeen se plig om self uit te vind wat sy situasie is en hoekom die werkgewer byvoorbeeld van ’n spesifieke fonds gebruik maak.

“Die vertrekpunt is om te ­bepaal hoeveel geld jy ná aftrede nodig gaan hê en om dan te ­bepaal of dit wat jy van jou werkgewer gaan kry, voldoende is. Indien nie, is dit ’n goeie idee om ’n ­finansiële adviseur te ­nader en ’n plan te maak om ­ekstra te spaar,” sê hy.

Die navorsing wys slegs 20% van afgetredenes meen hulle het genoeg gespaar en dat hulle hul lewenstyl kan handhaaf ná ­aftrede.

Daar is darem ook “lere” wat jou kan help in die aftreebordspel. As jy ’n ontleding van jou situasie doen en besef jy moet meer spaar vir aftrede, kan jy bepaal hoe jy meer geld na jou aftreebeleggings kan kanaliseer.

Baie mense besef byvoorbeeld nie dat hulle reeds ongeskiktheidsversekering as voordeel by die werk het nie. Om dan nog self ongeskiktheidsdekking uit te neem, is dalk net geldmors – geld wat jy eerder vir aftrede kan spaar.

Weet hoe jou pensioenfonds werk

Suid-Afrikaners het in die algemeen nie ’n goeie begrip van hoe hul pensioenuitbetalings gaan werk nie, sê Mayuri Reddy, markkenner van Sanlam se afdeling vir werknemervoordele.

“Hulle is heel oortuig dat hulle vir die res van hul lewe elke maand ’n spesifieke bedrag gaan kry, maar afhangende van waarin hul geld by aftrede belê is, kan die uitbetaling wisselvallig wees, of daar is dalk bloot nie genoeg geld om vir die res van hul lewe te hou nie,” sê sy.

Mense leef deesdae langer danksy mediese vooruitgang. By aftrede kan jy dus die onaangename verrassing kry dat jy nie genoeg geld het vir ’n paar dekades se lewenskoste nie.

“Daar word dikwels gesê ’n mens moet sowat tien keer jou jaarlikse salaris belê hê teen die tyd dat jy aftree, maar 15 keer is meer realisties,” sê Maharaj.

Wees versigtig vir daardie derde in kontant

Een van die heel grootste “slange” wat jou vinnig agteruit kan laat boer, is die feit dat mense, soos wat die wet toelaat, ’n derde van hul geld in kontant neem by aftrede.

“Dit is baie gevaarlik om dit te doen,” waarsku Reddy.

“Die navorsing wys dat meer as 21% van die afgetredenes wat aan ons peiling deelgeneem het, reeds binne ses maande ná aftrede dié geld uitgegee het. “Van die res het die meeste dit binne vyf jaar ná aftrede ­bestee,” sê sy.

Geld wat in kontant onttrek word, word tipies gebruik om skuld te delg of om eiendom te verbeter.

“Dink baie mooi of dit regtig die moeite werd is voor jy geld aan jou huis bestee ná aftrede. Baie mense doen dit omdat hulle sê hulle gaan die eiendom verkoop, maar navorsing toon dat die meeste van hulle nadat die verbeteringe gedoen is, steeds daar bly. 

“Daardie geld wat dus vir ­aftrede gebruik moes word, is nou eintlik verlore omdat dit nie ’n inkomste verdien nie,” sê Reddy.

Jou lere

Net soos wat ’n te groot eiendom ’n “slang” kan wees in die aftredespel, kan dit egter ook een van die min “lere” wees na ’n beter inkomste.

“As jy regtig nie ’n groot ­woning nodig het nie, verkoop dit en herbelê die wins,” sê Maharaj.

As jy byvoorbeeld R1 miljoen wins kan maak met die verkoop van ’n huis en dit dan belê, kan dié geld jou onmiddellik ’n ekstra R5 000 per maand in die sak bring net uit rente.

Nog ’n “leer” wat mense dikwels miskyk, is dat daar geen wetgewing is wat bepaal presies wanneer jy moet aftree nie.

“Baie mense tree teen 65 af, maar heelwat tree wel vroeër af. Hulle tree vroeër af omdat hulle onder die indruk is dat hulle reeds genoeg gespaar het,” sê Reddy.

Vanweë mense se langer ­lewensverwagting is dit egter dikwels nie die geval nie.

“Maatskappye het wel tipies ’n beleid oor wanneer hul werknemers moet aftree, maar as jy gesond is en kan aanhou werk, is dit ’n goeie plan om aan te hou werk solank jy kan,” sê Maharaj.

Volgens hom kan jy jou aftreegeld verdubbel deur ses jaar langer te werk en verdriedubbel as jy tien jaar langer kan werk. 

“Daar is ongelukkig wel die tendens dat mense moet aftree teen 65, maar daar is heelwat senior burgers wat daarna wel ’n plan maak en aanhou werk. Niks is onmoontlik nie.”

Waar staan jy?

Spaar vir aftrede is een van die grootste verantwoordelik­hede wat ’n mens het, en dit is kommerwekkend dat soveel Suid-Afrikaners nie genoeg ­belangstel om uit te vind of hulle wel genoeg spaar om hul oudag te kan geniet nie.

“Gaan vind vandag nog by jou werkgewer of finansiële adviseur uit waar jy staan met jou aftreebeplanning, maak nie saak hoe oud jy is nie. 

“Maak dan werk daarvan dat jy eerder ’n leer uitklim as wat jy teen ’n reuseslang afgly!” waarsku hulle.

Bron: http://www.netwerk24.com/Sake/Geldsake/aftreespel-is-soos-slangetjies-en...